Tuesday, 22 December 2015

Van dik Boerseun tot Vetsjef

Hier gaan ons, n wilde rit die onbekende in, die rit van dik boerseun tot by Vet Sjef. Met al die verdraaiings en verbuigings aan en van my storie, het ek besluit om hom self te vertel, vraatjies en al. Dis ongelukkig te lank vir net een blog, so ek gaan dit oor so paar versprei en, al klink dit somtyds of ek in ń samesweerings teorie wil belê, glo my, dis nie as een bedoel nie.
13 September 2007 (ook my vrou se verjaarsdag, nie net in 2007 nie, elke jaar … ek sê maar net), op n helder lente dag in Pretoria verloor ek finaal my geveg met my destydse werkgewer. Ek sal liewer nie name noem nie (no names, no packdrill). Ek word ń klein hoeveelheid geld aangebied as ń paket, maar geen afskeids partytjie nie, net ń gaan weg asb. Die rede; ons profiel is nie die regte kleur nie, dus lyk ons BEE punte maar aan die hond kant en met jou wit bas hier lyk die toekoms vir ons staatskontrak maar kaaaak. So, dit was die einde van my padjie saam met hulle en vir n tweede keer is ek ge-“retrench”, so mooi woord vir “ge-fire sonder ń goed genoeg rede anders as die kleur van jou vel”.
Eerste keer was in 1996, met my graad vars en nuut op my CV en in afwagting dat ek nou uiteindelik ń “Beampte” gemaak sal moet word. Hoe stoepit kan een mens wees. Op daai stadium was ek as skamele “Senior klerk”, hoof van hulpdienste in ń tandheelkundige hospitaal net buite Pretoria en ja, by ń swart universiteit, met ń meerderheid swart mense maar ń oormaat wittes in bestuursposte. ń Resep vir afdanking. Maar moet jou nou nie laat vertel dis so voor die hand liggend gedoen nie, nee my vriend, daar het ek geleer van hoe moeilik, eintlik onmoontlik, dit kan wees om slim konstuktiewe afdanking te bewys.
Hulle skuif eerste: Met jou nuwe graad, sal ons jou in ń afdeling moet inskuif waar daar moontlikhede vir toekomstige bevordering is. Ons plaas jou oor na Finansies toe, maar jy moet onthou, al was jy hoof van ń afdeling, word jy op jou huidige rang geskuif, jy sal dus een van die laer range in die afdeling wees, en o ja, hulle wag al vir jou.
My eerste skuif: (Stomgeslaan); Maar ek het ń graad in sielkunde en kriminologie, nie finansies nie.
Hulle tweede skuif: Ja ons weet, maar soos jy seker besef is hierdie ń tandheelkundige hospitaal en die enigste ander opsie vir jou is ń vrywillige paket, en o ja, dit sal nie vir ewig vrywillig bly nie en onthou, vrywillig is baie meer voordelig as gedwonge……, jy sal byvoorbeeld nie hoef om jou studieskuld vir genoemde graad terug te betaal nie.
Bam! In ń oogwink. Op die tafel. Vat dit of los dit.
Wel, terug in 2007. Dik trane is gehuil en toekoms planne het aan skerwe gelê. Vir ń wyle kan jy nie eers die tonnel sien nie, wat nog lig aan sy einde. Ek hoef seker ook nie te sê dat Marthie se verjaarsdag so in sy moer, so in sy moer was nie.
Ongelukkig kan mens nie te lank treur nie, dit vreet geld en die paket was nou nie iets waaroor gospel liedjies geskryf word nie. Die immegrasie ding was ook nie ń nuwe idee nie, ons het al erenstig daaraan begin dink. Op daai stadium was ons papierwerk reeds ingegee vir ń moontlike skuif Kanada toe, maar dit sou nog meer as twee jaar wees voor die Kanadese hulle besluit sou neem.
Ons besluit ek gaan Nieu-Seeland toe om die wereld daar te gaan LSD (Look, See and Deside – of beter bekend as – om werk te soek, maar jy mag dit nie sê nie, want dan word jy nie in die land toegelaat nie). Plan was, ek sal gaan terwyl Marthie aanhou werk. Kry ek iets, doen ek aansoek vir die nodige visa, vra die vrae wat gevra moet word, Marthie pak op, verkoop wat verkoop moet word en kom oor, maar, kry ek nie iets nie, het sy darem nog haar joppie.
Ek het met amper drie-kwart van my paket geld vir my ń vliegtuig kaartjie gekoop en begin om al my mannefenalia te verkoop. Glo my, op 45 het jy al n redelike versameling mannefenalia en terwyl die mense wat dit van jou hande wil afneem dit graag iets anders wil noem, is dit jou goed en baie hartseer om te sien gaan. Ook was daar die nader ontmoeting met die menslike aasvoël. Hoe hulle die dood van jou beroepslewe ruik is nog ń raaisel, maar as jy weer sien is hulle daar en dit wat hulle jou goed voor wil koop, laat jou bewerig en lus vir ń bierglas yskoue Tequila.
Uiteindelik het jy ook op die punt gekom waar jou verkope verkoop is, jou ghoebaais is geghoebaai en jy staan op die lughawe, alleen met jou paar reistjeks en ń oorlaaide rugsak wat jy as handbagasie beskryf. Dis wanneer die groot alleen op jou toesak soos ń dassie karros. Maar jy weet daar is nie omdraai nie, jy sal moet die onbekende in. Gelukkig, danksy ń goeie vriendin is daar ń hele gesin vriendelike Kiwi-kaners wat vir jou aankoms wag. Ten minste sal dit nie ń onpersoonlike Hotel kamertjie wees nie, maar laat ek nou nie myself verloor nie.
Die vlug Nieu-Seeland toe is ń lang een, veral as jy dit via Singapore doen. Jy vlieg vandag, land eers more oggend donkerdag in Singapore en dan is dit ń lang dag wat voorlê vir ń armgat reisiger op ń lughawe soos daai een so voor jy die laaste been Nieu-Seeland toe aanpak.
Terug by die lughawe en na jy jou bêl huis toe gebêl het, ondek jy daai reuse lughawe. Daar is byvoorbeeld ń hele Lindt sjokolade winkel, bid jou aan, ń hele winkel. Nou as ek een regte swakkie het, dan is dit ń slêb +/- 70% Lindt donker sjokalade. Daai soort wat jy so hard moet buig voor hy breek en as hy breek, klap hy met ń slag, fyn stukkies skiet die lug in en jy lek lek soos ń hond in die lug om hulle te vang. Hemels. Dan is daar winkels met GROOT naam goeters soos horlosies, klere ens ens. En het ek genoem daar is ń hele Lindt winkel. Maar met my begroting het ek besluit om van die gratis Singapore toer gebruik te maak. Jy klim daar by die lughawe op ń bus, ry so deur ń gedeelte van die stad tot by ń rivier, dan laai hulle jou op ń boot en jy vaar met die rivier af tot by die Meerleeu wat water spoeg en dan weer die omgekeerde tot by die lughawe. Darem so stukkie van die dag weg en ten minste sien jy iets van Singapore ook. Terug op die lughawe gaan kyk jy of die Lindt winkel nog daar is en ja wragtig, daar is hy nog steeds. Hoekom hy op so besige lughawe so klein voorraad 70% sjokolade dra……….
Dis alles lekker en opwindend, maar die vrees vir die ondekende lê swart en vlak en wag vir ń oomblikke van twyvel en dan, as hy jou gryp is dit of jy skoon die rittel titts kry. Op Universiteit het ek van angs aanvalle geleer, maar jy erken hom amper nie as jy hom die dag self ervaar nie. Voel skielik of daar nie genoeg suurstof is nie, jou hart klop in jou keel en ń lamheid sak oor jou neer en al wat jy, stoksiel alleen op ń lughawe kan doen, is sit doodstil en wag dat dit verby gaan en hoop niemand het daai hardegat traan gesien wat oor jou wang gehardloop het nie.
My enigste raad aan myself was om nie te lank stil te sit en top nie, doen net iets. So het ek die res van die dag beweeg tussen eetplekke, rookareas, ń sekere Lindt winkel, kringloop op kringloop tot ek ure later die aankondiging gehoor het: “Flight SA526 to Christchurch, New Zealand now bording at gate N.” Wat ń verligting.
Dis toe my agterstewe daai vliegtuig sitplek tref dat ek besef hoe lank terug ek laas geslaap het. Sien, ek sal nie droom daarvan om op ń lughawe te sit en slaap nie. Behalwe vir die ooglopende kriminele element (onthou ek is vars uit SA uit), is daar die ou klein kwessietjie van my, wel, my gesnork. Nie net kan ek dooies opwek nie, daar is ook verskeie Apteke in die area, en die feit dat hulle slaappille nie ń oomblik se rus-en-vrede sal hê nie, om in ag te neem. Wel, toe ek en die vliegtuig sitplek mekaar vind, was daar amper nie genoeg tyd om myself in te gordel nie. Die ander geluk was dat die vliegtuig redelik leeg was, so my vrees dat ek ander mense sal pla met my gesnork, nie so vreeslik nie. Die vliegtuig het skaars sy wiele gelig toe is ek in droomland. Twee ure later skrik ek wakker, ja skrik (het ń idee dit het iets met ń sekere gesnork te doen gehad), en ek kan maak wat ek wil, slaaptyd was verby.
So het dit veroorsaak dat ek ń sonsopkoms uit n vliegtuig oor die Astraliese aagterland gesien het, ń oomblik wat my so diep geroer het dat ek dit amper …….wel…… jy is nooit weer dieselfde nie. Dit was die mooie oomblik wat ek as waarborg vir ń blink nuwe toekoms in my binneste wou bêre.
Volgende keer land ek in Nieu-Seeland en kry werk

2 comments:

  1. My nuutste blog pleeging. As jy daarvan hou, deel (share) asb, deel dit bleddie ding in elk geval ...... asseblief

    ReplyDelete
  2. Jy skryf baie goed! Man van vele talente!

    ReplyDelete