Sunday 2 November 2014

Sosaties, waar  of wolhaar.

As daar nou ʼn ding is wat my moeilik maak, is dit al die namaaksels wat mens te koop kry as die ware Jacob. Maak nou nie saak wat jy wil koop nie, daar is iemand wat daardie "produk" aan jou wil afsmeer, die "produk" wat nie proe en/of lyk soos jy dit onthou nie.
Die ding wat hierdie krapperigheid veroorsaak het, is goeie ou Spaanse Chorrizo wors. Noudie anderdag by besluit ons dat dit tyd geword het vir Paella, regte Paella. Nou soos die noodlot dit wil hê is daar een bestanddeel wat klaargemaak gekoop moet word, want daar is net nie genoeg ure in die dag om dit self te maak nie. Ek praat van regte Chorrizo wors. Wel hier begin die soektog toe. Ek het hier geproe en daar geproe, maar helaas, nie een het eers naastenby soos die ware Jacob geproe nie.
Ek weet as mens by die regte tipe plaasmarkte gaan soek, sal jy vir "Jacob" daar kry, maar dis nie my punt nie. My punt is net dit; wat gee sekere "mense" die reg om ʼn produk swak na te maak en dit dan aan jou te probeer afsmeer as die ware Jacob .... of in hierdie geval, Chorrizo.
Hierdie gril kom nie van vandag af nie, dit kom al jare met my saam. Na ek baie jare terug "smoked Haddock" in Engeland geproe het, was ek baie opgewonde toe ek eendag in een van SA se grootste ketting winkels onder ʼn baie bekende handelsnaam "Genuine Smoked Haddoch" raakloop. Ek het ʼn gawe hap van my salaris daarvoor betaal en is huis toe daarmee.  Die afwagting .......
Volgende oggend is die melk verhit tot die presiese temperatuur (net-net onder kookpunt), want daai dure vissie proe op sy beste as jy dit in melk posjeer. Met afwagting en ʼn waterrinde mond is die eerste hap geproe. Sies ga poef ...... wat het verkeerd geloop.
Eerstens wass nie ʼn saagsel beskadig of beseer in die rook daarvan nie. Die ou vissie het sy lewe gegee om chemies gerook te word. Mens sou dink daar moet ʼn wet teen so iets wees. Rook sê vir my daar moet rook betrokke wees, en nee ou Hans, nie daai soort rook nie, die soort wat hout maak as dit gebrand word. Dit is wat my laat besef het hoe vêr besighede sal gaan om geld te maak.
Ongelukkig val regte goeie ou sosaties veral in bogenoemde kategorie. Die goed wat meeste slaghuise aan jou wil afsmeer as sosaties, is om die minste te sê, skandalig. Regte tradisionele sosaties het n spesifieke smaak en geur wat, as jy dit eers een keer geproe het, niemand jou weer ʼn rat voor die oë sal kan draai nie. Wat ek sukkel om te verstaan, is hoekom slaghuise nie meer regte sosaties maak nie. Dink slagters dis dalk te moeilik, of het hulle net te lui geword en nou koop hulle daai ga-ga sous wat iemand sosatie marinade noem en maak dan so vir ons vleis op stokkies met n snaakse smaak. Hmmmmm......
So hier gaan ons, ek gaan jou die geheim leer van regte sosaties sodat jy volgende keer daai slagter kan vertel waar hy sy sosaties kan bêre, verkieslik skerp kant eerste.



Regte Sosaties

Sosaties in hierdie foto is met riboog skywe (ribeye steaks) gemaak.

Genoeg vir:  8 – 10 mense
Bereiding: 30 minute
Gaarmaak tyd: 20 – 30 minute
Staan tyd: Ten minste 6 ure maar verkieslik  24 uur in die yskas
Sosatie Spesery mengsel

·         30 ml (2 e) fyn koljandersaad
·         5 ml (1 t) fyn kaneel
·         30 ml (2 e) kerrie poeier – beslis nie die warm (HOT) soort nie
·         5 ml (1 t) gemmer poeier
·         5 ml (1 t) wonderpeper
·         10 ml (2 t) sout
·         90 ml bruinsuiker
·         15 ml (1 e) mielieblom
Maak ongeveer 200 ml sosatie spesery mengsel.

Marinade



·         180 ml (3/4 k) asyn (Ek gebruik soos volg; wit druiwe asyn vir wit vleis; rooi/bruin druiwe- of appel asyn vir rooi vleis en vark)
·         125 ml (1/2 k) droë rooi wyn (Vir alle vleis)
·         15 ml (1 e) fyn appelkooskonfyt
·         4 knoffelhuisies – fyn gekap
·         125 ml (1/2 k) karringmelk,ongegeurde  jogurt of suurroom (Ek verkies suurroom, maar ek is klaar vet, wees gewaarsku)
·         125 ml (1/2 k) water – hou eenkant en gebruik slegs as die marinade te dik is.

Sosaties


·         +/- 2 kg vleis – sny in hapgrote blokkies (Die vleis is egter jou keuse, maar onthou, geen marinade kan ʼn swak snit in ʼn goeie snit verander nie, vra jou slagter om ʼn goeie snit voor te stel.)
·         2 tot 3 mooi uie – sny in blokkies so groot soos jou vleis blokkies.
·         2 tot 3 soet rissies (Verskillende kleure lyk gewoonlik mooi in die sosaties) – in dieselfde grote blokkies as die uie en vleis gesny.
·         20 – 30 gedroogde appelkose
·         250 ml (1 k) room – as jy die aller lekkerste sous wil maak met die gebruikte marinade.

So maak mens

Stap 1. Spesery mengsel
·         Meng el die bestanddele saam en bewaar in ʼn lugdigte houer of soos my Ouma van karringmelk faam gesê het, ʼn kênfroet bottel.
Wenk:
·         Ek maak gewoonlik die spesery mengsel vyf dubbeld aan en gebruik dit soos benodig (200 ml) vir die marinade of om soos braaivleis speserye oor tjoppies of hoender te sprinkel net voor jy dit braai.
·         Dit kan ook in oondgebraaide hoender in iets besonders verander.

Stap 2. Marinade
·         Plaas al die bestanddele vir die marinade in ʼn kastrol.
·         Voeg 200 ml spesery mengsel by
·         Verhit tot kookpunt terwyl jy dit aanhoudend roer
·         Verlaag die temperatuur en prut tot die marinade verdik
·         Verdun met die 125 ml (1/2 k) water indien nodig
·         Laat heeltemal afkoel voor jy die vleis hierin plaas.

Stap 3. Sosaties


·         Ryg die vleis, uie, soet rissie en appelkose om die beurt op sosatie stokkies.
·         Plaas die sosaties in ʼn glas of plastiek bak (nooit iets soos metaal wat met die suur in die marinade kan reageer nie).
·         Giet die marinade oor en maak seker al die sosaties is bedek.



·         Bedek met ʼn deksel of kleef plastiek en plaas in die yskas.
·         Draai die sosaties elke paar uur.
·         Marineer vir ten minste 6 ure maar verkieslik 24 uur.
·         Braai oor matige kole tot gaar (20 – 30 minute).

Stap 4. Sous
·         Plaas die gebruikte marinade in ʼn kastrol en verhit tot kookpunt.
·         Verlaag die hitte en prut vir ten minste 5 minute.
·         Giet die room in en prut tot die sous verdik
·         Indien te dun na jou smaak, verdik met ʼn bietjie mielieblom wat met water gemeng is.
·         Absoluut heerlik saam met foelie gebraaide heel aartappels.

Wenk
·         Die spesery mengsel gee n heerlike sosatie smaak aan enige braaivleis. Sprinkel daarvan oor die vleis soos jy sou braaivleis speserye en siedaar, in kom die komplimente.                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                      Gooi asb n ou possie vir my in die e-pos. Dit is altyd heerlik om van julle te hoor en julle vrae gee my idees vir volgende artikels en resepte. As jy n snaakse storie het wat met kos en kosmaak te doen het, stuur dit gerus aan. My e-pos is vetsjef@gmail.com.  Baie dankie vir die talle e-posse wat ek steeds ontvang en ek wil ook my groot dank oordra aan Huisgenoot wat gehelp het om hierdie blog op die been bring. Baie dankie.snaakse storie het wat met kos en kosmaak te doen het, stuur dit gerus aan. My e-pos is vetsjef@gmail.com Baie dankie vir die talle e-posse wat ek steeds ontvang en ek wil ook my groot dank oordra aan Huisgenoot wat gehelp het om hierdie blog op die been bring. Baie dankie. 
·         

No comments:

Post a Comment